Vanmore, terwyl ek my Pronutro sit en eet voor Morning Live (heellaas geen DSTV nie), tref nog 'n hamer my op die voorkop. As ek dan nou 'n New Ager word, gaan ek deel wees van 'n gemarginaliseerde groep. Hei-jou-wragtie. Wie sou kon raai?!
Die saak staan so. Ek dink nie ek was al ooit deel van 'n gemarginaliseerde groep nie. Ek was nog altyd deel van die wen span. My hele lewe lank.
- Ek is/was 'n wit Afrikaanssprekende - dis 'n groot groep, wat lank die beste en sterkste en grootste en in-beheer-ste groep in ons land was. Vandag (lees in die nuwe bedeling), is die Afrikaanssprekendes nogsteeds 'n groot groep. Dalk nie meer die wenspan nie, maar wel 'there', as ek dit so mag stel.
- Ek was in een van Pretoria se spogskole op hoërskool. Ons was die beste. Ons was nie die grootste nie. Ons was nie die slimste nie. Ons was gereeld die vinnigste, en die sterkste, en die gekultiveerdste. 'n Wenspan indien jy al ooit een gesien het...
- Ek was nog my hele lewe lank (tot ek so 'n jaar terug ophou gaan het) in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Ons is nie die grootste susterkerk nie, maar wel baie BAIE trots op ons kerk. Ons het in ons harte geweet ons is die beste, en dat ons op die regte pad is, en dat ons hemel toe gaan. Dat ons die wenspan is.
- My familie was al die jare deel van die Nasionale Party. Die NP was die wenspan. Ons was die beste. Ons het die beste geweet. Ons het die regte idee gehad. Ons het regéér!
- Toe moer ek uit die kas uit. Ek is gay. Ek is deel van die gay span. Die gay span is nie noodwendig (in my oë) gemarginaliseer nie. Ek dink die mowwe is 'n groot genoeg groep om nie te voel hul trek aan die kortste ent van die seksualiteit kontinuum nie. Ons is cool, en ons weet dit, en niemand gaan dit van ons af wegvat nie. Ons het hard daarvoor baklei, dammit!
Dit was op daardie oomblik wat Leanne Mannas iets gesê het oor 'n gebedjie opsê vir die krieketspan, wat daai hamer my tref. Ek het nooit besef hoe oordonderend en in your face geloof kan wees nie. As Christen het ek nie besef hoe Christenskap gepropageer word nie. Ek het wel agtergekom dat daar ander gelowe is wat 'air time' moet kry, en was soms ook effens kwaad omdat die wenspan opsy gestoot moet word vir die kleinere gelowe (uit die oogpunt van 'n Christen natuurlik).
Nou, dat ek besluit het om die wenspan te verlaat, kom ek agter hoe gemarginaliseer die res werklik is. Skielik het ek baie meer empatie met baie gemarginaliseerde groepe.
Ek voel gladnie minderwaardig nie. Ek wil nie op die map wees nie. Ek neem net skielik waar vanuit 'n totaal nuwe hoek. Ek is glukkig met die keuse wat ek gemaak het. Ek besef die wenspan konsep is nie al waarom die wêreld draai nie - alhoewel dit is hoe die Afrikaner sy kind grootmaak...
Nou dat ek die Afrikaner weer hierby insleep... Mens moet altyd in 'n groep geplaas word. As ek by iemand kom - nou minder as voorheen, en veral minder as die laat 80's vroeë 90's - wou ek eerstens weet in watter kerk hy/sy is, en tweedens watter party hy/sy voor stem. Want as jy Afrikaanssprekend was, was jy of 'n NG, of 'n NHK, of 'n GK. Jy was of KP of NP. As jy ekstreem was, was jy of HNP, of DP. As jy weird was, was jy in 'n charismatiese kerk. Dis hoe dit was.
Self as jy in die engelse klassie op laerskool was (op die platteland was net Afrikaanse skole, en een klas vir die engelse kinders), was jy 'n uitgeworpene. Die kinders van die engelse klassie het maar met mekaar gespeel. Ek was vir 'n rukkie in die hulpklas (vir disleksie - mok iemnat dit dlak agter?), en die ander kinders wou nie juis met ons meng nie. Wat nog te praat van die spesiale klas?! Ek het darem maatjies in die gewone klasse gehad, maar die arme spesiale klas kinders... Hulle was dom, vuil en het luise gehad. Jy raak nie aan hulle met 'n tang nie.
Die Afrikaner is bang vir enigiets wat anders is as homself. Dit was een van die redes hoekom ek vir 18 jaar (teenoor vriende) en 21 jaar (teenoor familie) in die kas was. As jy anders is, gaan jy 'n uitgeworpene word. Dit het my ma eendag vir my gesê - voordat ek uit die kas gekom het - toe ons oor die hele gay issue gepraat het. Haar woorde het neergekom op die volgende: as jy anders is, word jy verwerp.
Waarin is hierdie vrees vir die vreemde gewortel? Is die Afrikaner dan so onseker van homself? Ai. Dis jammer.
Wag, ek dwaal af.
Soos ek vroeër gesê het, is my spirituele paadjie my eie paadjie. Niemand kan dit vir my loop nie. Ek kry wel heelwat insette. Van vriende, van media en ander leesstof, ens. Daar is dus support. Steeds bly dit my keuse.
Ek dink die feit dat ek al eenmaal afgewyk het van die straight and narrow maak dit vir my makliker om net nog 'n swenk op die linker vlank te vat. Ek is net ongelukkig nie so seker of my familie nog 'n 'afwyking' gaan oorleef nie...
Labels: alternatief, geloof, politiek, wtf