Wednesday, February 28, 2007

Oor Google search strings en dit...

Een van die mees algemene search strings wat na my blog lei is "tiener selfmoord". Ek wonder hoekom...

Gedig...

Een van my favourite, eie gedigte...




[botterbak vol plaatkoekies]

Ek eet die vyfde-laaste plaatkoekie koud en oud en bloots
– jy’t sewe gestuur –
sonder botter of stroop uit jou botterbak:

do not freeze.
not suitable for frying.
keep refridgerated.

Iets is besig om my binne te dring –
ek verwag my dood voor aspoestertwaalfuur slaan,
want dan is die nagmerrie oor
en staar die prins my verslae agterna.

Op die krop van my maag voel ek weer
vloeiend tussen my ribbes deur
bo-op my sleutelbene
en onder my kopvel,

dit: vloeiend vetterig oor my harsings;
steek kloppend vas agter my oë.
Ek verwag my dood:
natuurlik, onnattuurlik of selfopgeleg,
want dit agtervolg my skaamteloos.

Die laaste plaatkoekie en jy met jou goue oë
lê my handpalm vol.
Onder my duim voel beide soos fluweel.

Oor vandag en hoe ek voel en dit...

Ek is vandag in een van daai "waar-is-ek-nou-eintlik-oppad-heen" buie. Ek betweifel alles wat tans in my lewe aangaan. Ek is nie noodwendig depressief nie. Net ingekeerd. Hier is 'n paar gedigte wat ek in my vroeë twenties geskryf het...




Soek
kom! ons gaan na die stad,
die park,
daai plek met al die mense

dan kyk ons hier
en ons kyk daar
en wys die snaaksighede vir mekaar

dan herken ek jou
en jy herken my
in al die gesigte loop by ons verby

dan, wie weet,
met ’n bietjie geluk
sien ek myself in myself raak.




[ ]

ek wens Jy was my kompas
om my rigting aan te dui,
om my te help in my soeke,
my te help om myself te kry
maar helaas
is Jy die kompas wat vergete
op my plafon moes agterbly




[introspeksie op Oudtshoorn ‘99]
my ek-wees sit hier iewers
tussen al die mense
dalk in ‘n bar met ‘n bier
(ek drink nie eens bier nie)

nou wil ek weet hoe soek ek hom
kry ek hom
hou ek hom
verstaan ek hom
aanvaar ek hom
maak ek hom ek?

Eendag as ek groot is...

Eendag as ek groot is gaan ek so ene vir my koop:






Lees meer by TechSmart of by Apple...

Tuesday, February 20, 2007

Postsecret pick of the week...

Closure...

Ek het gister heel middag op my ma se bed gelê en slaap. Ek en die kat. Ek dink die kat is besig om dood te gaan. Sy is baie oud. Vyftien is moer oud vir 'n kat. Ek weet van 'n kat wat agtien geword het, maar dis die enigste een. Sy ingewande en dinge het begin oppak. (Come to think of it, my shrink se kat is laasjaar op 21 dood...). As ek 'n eksistensialis was sou ek waarskynlik wou weet of ons nie maar almal besig is om dood te gaan nie. Miskien. My agterlyf is darem nog nie te swak om op meubels te spring nie.

As jy dink ek gaan selfmoord pleeg deur myself te verdrink, maak jy 'n moerse fout. Net omdat ek in elke derde storie myself verdrink, beteken nie ek gaan dit doen nie. Nie noodwendig so nie, in elk geval.

“Onthou om aan iets te dink om vir my te sê,” het jy Maandagaand vir my gesê. Ek het toe nie. Ek het gewonder wat ek vir jou voel, óf ek nog vir jou voel.

Ek het gisteraand, wel, eintlik vanoggend, 'n gedig van my vriendin wat gedigte skryf, gelees. In 'n letterkunde tydskrif. Ek het gewonder of sy sal omgee as ek haar titel as 'n reël in 'n gedig gebruik. Sy sal omgee as ek haar nie vra nie.

Griet is terug, lees ek netnou in 'n artikel. Die skryfster sê sy het nog nie closure oor die karakter nie. Ek ook nie, dink ek en glimlag. Nou skryf sy maar nog 'n boek oor dieselfde karakter om closure te kry.

Gistermiddag op my ma se bed het ek gekyk hoe die kat slaap. Sy het soos 'n sfinks by my bene gelê. 'n Baie maer sfinks. Haar kop het begin knik en stadig vooroor gesak. Dit het stadig gesak totdat dit nie meer kon sak nie. Sy het heeltemal uit proporsie gelê. Dit het ongemaklik gelyk. Haar rug was gedraai. Katte lê nie so nie. Hulle weet van gemaklik lê. Ek het my been beweeg om te sien of sy nog lewe. Sy het haar kop vererg opgelig en my 'n vuil kyk gegee. Dis toe dat ek besluit sy is besig om dood te gaan.

Ek sien jou vanaand weer. Jy het gesê ek moet met jou praat. Dit werk ongelukkig nie so nie. Mens moet so iets nie forseer nie. Dis onnatuurlik.

Ons verskil te veel.

In dieselfde tydskrif is 'n artikel oor 'n lykshuis. Net toe ek dit wil lees lui my foon. Dis 'n gay vriend uit die groot stad. Ek sê vir hom ek is besig om te skryf. Hy vra my uit oor die storie. Ek sê vir hom ek is besig met iets wat ek nie weet waarheen dit oppad is nie. “Dit gebeur maar met almal,” sê hy.

My vriendin wat gedigte skryf het hierdie recurring droom oor my. Sy was ietwat ontsteld toe sy my die eerste keer daarvan vertel het. Sy het gedroom dat ek selfmoord pleeg. Ek sal haar vra of ek dit by my storie kan inwerk.

In die lykshuis artikel staan daar dat die belangrikste mens by die funeral nie die lyk is nie.

My schrink het gesê ek moet vir die mooi blondekop seun 'n brief skryf. Nie om vir hom te gee nie. Vir my om dit uit my gestel te kry. Om closure te kry. As ek wil kan ek dan saam met hom gaan koffie drink. Of iets. Dit sal help om die closure te kry. Dan sal ek 'n beter idee hê wat ek vir hom wil sê. Meeste van die emosies sal ook uit wees. Sodat ek finale, finale closure daaroor kan kry. Dit was meer as twee jaar terug dat sy die voorstel gemaak het.

Die kat is seniel ook. Sy is nou hier. Al klaend. Sy kla omdat sy honger is. Ek tel haar op en dra haar na haar bak toe, om vir haar te wys dat daar kos in haar bak is. Ek sit haar neer en sy begin eet. Kan sy dit nie maar self uitfigure nie. Ek gaan was my hande. Die kat is vuil. Iemand wou die ander dag weet of sy natgereën het. Nee, sy lyk maar so. Sy is oud. Volgende week hierdie tyd sal ek my ma by die werk moet bel en sê dat die kat dood is.

Woensdag, deur die loop van die dag, het ek gewonder of jy 'n sielsgenoot vir my is. Hoekom het ek so min om vir jou te sê? Is dit omdat ons mekaar so min sien? Of is dit omdat ons net nie sielsgenote is nie? Ek wil nie besluit nie. Dis die einde van die week en ek het nogsteeds nie aan iets gedink om vir jou te sê nie.

Ek het netnou gepraat van selfmoord. Miskien, mens weet nooit. Nie nou nie, in elk geval. Ek is gelukkig. Regtig. Ek sweer ek is gelukkig. Tevrede is eintlik 'n beter woord. Ek hou van wie ek is.

Ek het gewonder wanneer ek my gay vriend weer sal sien nadat ek die telefoon neergesit het. Ek het hom regtig lanklaas gesien.

Ek dink dit sal dalk beter wees as ek dit maar beëindig.


Monday, February 19, 2007

Wat ek die naweek geleer het...

My beskermengel se naam is Scott.

Sunday, February 18, 2007

Glo jy in engele?

Raphael


Michael


Uriel


Gabriel



Ek wonder wie van julle glo in engele?
Indien wel, hoekom?
Het jy hulle al aan jou eie bas ervaar?

Friday, February 16, 2007

Die katte...





Gesprek (2)

Vir 'n rukkie sit ons in stilte en dink aan die komplekse dae van laat hoërskool.

“So gepraat van ander mans se onderbroeke,” sê hy toe hy homself weer by die hier en nou bepaal, “wat het geword van Hendri?”

“Hendri,” sê ek. Hierdie keer is dit ek wat die woord ingedagte herhaal.

“Ja, toe. Jy het my aan die hele Mike affêre herinner, nou is dit my beurt. Wat het geword van Hendri?”

“Wel, ek het hom so twee of drie maal weer gesien, maar ek was mos nie cool genoeg vir hom nie. Toe verdwyn hy uit my lewe.”

“Ek het nie baie van hom gehou nie, though,” sê hy. Sy stelling hang 'n ruk in die lug.

“Hy het ‘n probleem met wit onderbroeke gehad,” sê ek, verdiep in die verlede. Hy lag oor my uitlating, en vra dan:

“’n Probleem? Watse probleem? Wat bedoel jy?”

“Ek het nie die vaagste benul nie,” sê ek terwyl ek nogsteeds ver weg is.

“Hei, word wakker. Wat bedoel jy?” Ek kyk vir hom, en antwoord sy vraag:

“Ek bedoel wat ek sê. Ek het nie die vaagste benul nie. Ons het eendag so oor onderbroeke en dinge gepraat, toe sê ek vir hom dat ek van wit onderbroeke hou...”

“...wink-wink, nudge-nudge...”

“...toe sê hy dat hy ‘n probleem het met wit onderbroeke.”

“Watse probleem?”

“Weet’ie, ek het nie gevra nie.”

“Wat bedoel jy jy het nie gevra nie!”

“Ek het gedink dis dalk iets persoonlik.”

Hy kyk my met ongeloof aan, en 'n uitdrukking wat vra: "Wat moet ek met sulke halwe info maak?"

“Bepaal jy jou by Mike, dan sal ek my kop breek oor Hendri.” Ek leun vooroor en maak ons albei se glase weer vol.

“Hoe het jy en hy in elk geval op die onderwerp gekom?” vra hy met ‘n stoute trek om sy mond.

“Ek kan nie onthou nie,” sê ek en wonder of Mike steeds ’n onderbroek puris is.

Thursday, February 15, 2007

Gesprek (1)

Toe ons klaar gelag het is daar ‘n lang stilte.

“Wat dink jy het geword van Mike?” vra ek hom skielik. Ek weet nie hoe ek by dié vraag uitgekom het nie, dalk omdat ons besig was om oor skool te praat.

“Mike wie?” vra hy.

“Mike man. Míke, Mike.” Hy lyk nogsteeds verward en ek besef ek sal moet uitbrei: “Mike man, met die mooi blou oë, pragtige smile, lispel, seks appeal.” Sy gesigsuitdrukking verander, en dit wil lyk of daar ‘n klokkie lui. Dan onthou ek dit skielik: “Mike met die wit onderbroeke.” Sy oë rek en hy glimlag skelm.

“Mike,” sê hy en rek die naam lank uit, “Mike, met die wit onderbroeke, Mike!”

“Ja man, Mike.”

“Ek onthou vir Mike.” Hy bly stil nadat hy dit gesê het. Hy kyk ingedagte na sy hande. “Ek onthou vir Mike,” sê hy weer, sagter.

“Wat hét geword van Mike met die wit onderbroeke?”

“Mike met die wit onderbroeke,” sê hy steeds ingedagte.

Sunday, February 11, 2007

Wat ek hierdie naweek gedoen het...

SWEET BLOU BOGGEROL!!!

En dit was moer lekker. G'n niks geswot nie! En ek het 'n komplimentêre Shiatsu sessie ontvang - die ideale post-exam destressor...

Soos julle kan aflei, het ek Vrydag se eksamen oorleef. Dit was oraait. Ek sal nie cum nie, en ek sal ("touch karma's wooden coffee table") seker darem deurkom...

Ek het met een vraag begin met Fromm en besef ek kan nie regtig onthou wat Erich oor die hele saak te sê gehad het nie. Krap toe als uit. Begin met Jung.

Op 'n ander plek moes ek skryf wat Adler se opinie oor die oorsprong van aggressie is. Ek dog what the fuck. Automatic writing hier kom ons. Ek begin bloot te skryf, en goddank begin daar hier en daar 'n liggie vir my opgaan. Ek weet egter nou nog nie of dit regtig Adler-liggies was nie...!

Later moet ek iets uit Rogers se oogpunt skryf. Boy oh boy! Daar slaan ek 'n blank soos laas in my standerd 7 geskiedenis vraestel... Ek skryf 'n bladsy sonder om enigiets te sê. (Die vraag vra skryf somethingoranother oor Rogers se selfkonsep-teorie, en Adam begin gorrel oor die selfkonsep. Ek selfkonsep voor en selfkonsep agter. Antwoord op die ou end glad nie die vraag nie...)

Aan die ander kant moet ek darem net ook noem dat ek die werk wat ek wel goed geken het baie goed kon antwoord. Ek het selfs sover gegaan om ses bladsye te skryf vir 'n 20-punt vraag. Die ongeluk is dat mens nie veel kan uitlos nie, maar dat die vraag net 20 punte tel. Dan skryf mens maar als wat jy weet...

Ai.

Ek hou nie van eksamen skryf nie.

Friday, February 02, 2007

Hoe lank kan Katinka uithou?

Katinka is my Volkswagen Chico. Haar tenk is op die oomblik nogal regtig leeg. Woensdag gaan die petrolprys 23c af. Hoe lank kan Katinka nog uithou...?


Katinka = afgeskakel...



Katinka = aangeskakel...

Thursday, February 01, 2007

Confession...

Hallo almal,

Ek het 'n confession om te maak: dis nie ek wat die Superhero/Supervillain questionnaire ontdek het nie... Dit was Henno. Ek het begin skuldig voel toe almal my begin aanhaal op hul sites as die oorsprong van die post.

Henno se blog is cool. Gaan lees Backwaterviews, of meer spesifiek Henno se post oor die Supervillain: Muhahaha.


Jammer Henno.

Groetnis,

A,