Closure...
Ek het gister heel middag op my ma se bed gelê en slaap. Ek en die kat. Ek dink die kat is besig om dood te gaan. Sy is baie oud. Vyftien is moer oud vir 'n kat. Ek weet van 'n kat wat agtien geword het, maar dis die enigste een. Sy ingewande en dinge het begin oppak. (Come to think of it, my shrink se kat is laasjaar op 21 dood...). As ek 'n eksistensialis was sou ek waarskynlik wou weet of ons nie maar almal besig is om dood te gaan nie. Miskien. My agterlyf is darem nog nie te swak om op meubels te spring nie.
As jy dink ek gaan selfmoord pleeg deur myself te verdrink, maak jy 'n moerse fout. Net omdat ek in elke derde storie myself verdrink, beteken nie ek gaan dit doen nie. Nie noodwendig so nie, in elk geval.
“Onthou om aan iets te dink om vir my te sê,” het jy Maandagaand vir my gesê. Ek het toe nie. Ek het gewonder wat ek vir jou voel, óf ek nog vir jou voel.
Ek het gisteraand, wel, eintlik vanoggend, 'n gedig van my vriendin wat gedigte skryf, gelees. In 'n letterkunde tydskrif. Ek het gewonder of sy sal omgee as ek haar titel as 'n reël in 'n gedig gebruik. Sy sal omgee as ek haar nie vra nie.
Griet is terug, lees ek netnou in 'n artikel. Die skryfster sê sy het nog nie closure oor die karakter nie. Ek ook nie, dink ek en glimlag. Nou skryf sy maar nog 'n boek oor dieselfde karakter om closure te kry.
Gistermiddag op my ma se bed het ek gekyk hoe die kat slaap. Sy het soos 'n sfinks by my bene gelê. 'n Baie maer sfinks. Haar kop het begin knik en stadig vooroor gesak. Dit het stadig gesak totdat dit nie meer kon sak nie. Sy het heeltemal uit proporsie gelê. Dit het ongemaklik gelyk. Haar rug was gedraai. Katte lê nie so nie. Hulle weet van gemaklik lê. Ek het my been beweeg om te sien of sy nog lewe. Sy het haar kop vererg opgelig en my 'n vuil kyk gegee. Dis toe dat ek besluit sy is besig om dood te gaan.
Ek sien jou vanaand weer. Jy het gesê ek moet met jou praat. Dit werk ongelukkig nie so nie. Mens moet so iets nie forseer nie. Dis onnatuurlik.
Ons verskil te veel.
In dieselfde tydskrif is 'n artikel oor 'n lykshuis. Net toe ek dit wil lees lui my foon. Dis 'n gay vriend uit die groot stad. Ek sê vir hom ek is besig om te skryf. Hy vra my uit oor die storie. Ek sê vir hom ek is besig met iets wat ek nie weet waarheen dit oppad is nie. “Dit gebeur maar met almal,” sê hy.
My vriendin wat gedigte skryf het hierdie recurring droom oor my. Sy was ietwat ontsteld toe sy my die eerste keer daarvan vertel het. Sy het gedroom dat ek selfmoord pleeg. Ek sal haar vra of ek dit by my storie kan inwerk.
In die lykshuis artikel staan daar dat die belangrikste mens by die funeral nie die lyk is nie.
My schrink het gesê ek moet vir die mooi blondekop seun 'n brief skryf. Nie om vir hom te gee nie. Vir my om dit uit my gestel te kry. Om closure te kry. As ek wil kan ek dan saam met hom gaan koffie drink. Of iets. Dit sal help om die closure te kry. Dan sal ek 'n beter idee hê wat ek vir hom wil sê. Meeste van die emosies sal ook uit wees. Sodat ek finale, finale closure daaroor kan kry. Dit was meer as twee jaar terug dat sy die voorstel gemaak het.
Die kat is seniel ook. Sy is nou hier. Al klaend. Sy kla omdat sy honger is. Ek tel haar op en dra haar na haar bak toe, om vir haar te wys dat daar kos in haar bak is. Ek sit haar neer en sy begin eet. Kan sy dit nie maar self uitfigure nie. Ek gaan was my hande. Die kat is vuil. Iemand wou die ander dag weet of sy natgereën het. Nee, sy lyk maar so. Sy is oud. Volgende week hierdie tyd sal ek my ma by die werk moet bel en sê dat die kat dood is.
Woensdag, deur die loop van die dag, het ek gewonder of jy 'n sielsgenoot vir my is. Hoekom het ek so min om vir jou te sê? Is dit omdat ons mekaar so min sien? Of is dit omdat ons net nie sielsgenote is nie? Ek wil nie besluit nie. Dis die einde van die week en ek het nogsteeds nie aan iets gedink om vir jou te sê nie.
Ek het netnou gepraat van selfmoord. Miskien, mens weet nooit. Nie nou nie, in elk geval. Ek is gelukkig. Regtig. Ek sweer ek is gelukkig. Tevrede is eintlik 'n beter woord. Ek hou van wie ek is.
Ek het gewonder wanneer ek my gay vriend weer sal sien nadat ek die telefoon neergesit het. Ek het hom regtig lanklaas gesien.
Ek dink dit sal dalk beter wees as ek dit maar beëindig.
4 Comments:
ek wondere hoeveel van hierdie storie waarheid is en hoeveel daarvan fiksie is...
die kat op my tannie-hulle se plaas het ook so begin raak. dis weird om 'n kat so vuil en maer te sien.
maar onthou, 'n kat het nege lewens...
Carien:
Toe ek dit ses jaar gelede vir my ma gee om te lees, was haar enigste reaksie: "Is dit regtig?"
Vir my om te weet... (He-he)
Arcadia:
Wat is jou blik op reïnkarnasie?
Katte moet hoity-toity wees. Hulle moet neus in die lug wegloop as hulle nie van iets hou nie. En weet hulle lyk goed terwyl hulle so maak...
Dís hoekom dit weird is as 'n kat so raak.
Post a Comment
<< Home