Friday, February 16, 2007

Gesprek (2)

Vir 'n rukkie sit ons in stilte en dink aan die komplekse dae van laat hoërskool.

“So gepraat van ander mans se onderbroeke,” sê hy toe hy homself weer by die hier en nou bepaal, “wat het geword van Hendri?”

“Hendri,” sê ek. Hierdie keer is dit ek wat die woord ingedagte herhaal.

“Ja, toe. Jy het my aan die hele Mike affêre herinner, nou is dit my beurt. Wat het geword van Hendri?”

“Wel, ek het hom so twee of drie maal weer gesien, maar ek was mos nie cool genoeg vir hom nie. Toe verdwyn hy uit my lewe.”

“Ek het nie baie van hom gehou nie, though,” sê hy. Sy stelling hang 'n ruk in die lug.

“Hy het ‘n probleem met wit onderbroeke gehad,” sê ek, verdiep in die verlede. Hy lag oor my uitlating, en vra dan:

“’n Probleem? Watse probleem? Wat bedoel jy?”

“Ek het nie die vaagste benul nie,” sê ek terwyl ek nogsteeds ver weg is.

“Hei, word wakker. Wat bedoel jy?” Ek kyk vir hom, en antwoord sy vraag:

“Ek bedoel wat ek sê. Ek het nie die vaagste benul nie. Ons het eendag so oor onderbroeke en dinge gepraat, toe sê ek vir hom dat ek van wit onderbroeke hou...”

“...wink-wink, nudge-nudge...”

“...toe sê hy dat hy ‘n probleem het met wit onderbroeke.”

“Watse probleem?”

“Weet’ie, ek het nie gevra nie.”

“Wat bedoel jy jy het nie gevra nie!”

“Ek het gedink dis dalk iets persoonlik.”

Hy kyk my met ongeloof aan, en 'n uitdrukking wat vra: "Wat moet ek met sulke halwe info maak?"

“Bepaal jy jou by Mike, dan sal ek my kop breek oor Hendri.” Ek leun vooroor en maak ons albei se glase weer vol.

“Hoe het jy en hy in elk geval op die onderwerp gekom?” vra hy met ‘n stoute trek om sy mond.

“Ek kan nie onthou nie,” sê ek en wonder of Mike steeds ’n onderbroek puris is.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home