Thursday, December 21, 2006

We wish you a merry Christmas...

... and a happy recuperation for the days thereafter!


Ek het pas met my ma gepraat oor die naweek, en hoe die etes gaan werk.

Ons wou oorspronklik gaan uiteet Kersdag, om almal 'n helse gekook en vuil kombuis te spaar, maar selfs die goedkoop plekke vra hierdie jaar R200+ per kop... Toe val ons maar terug op plan A: kook self 'n feesmaal.

Kom ek deel net met jou die logistiek van die naweek van 23, 24 en 25 Desember 2006:

Saterdagaand kom ouboet en familie terug van hul Kaapse wegbreek, en val by die moeder in die huis. (Hy het drie woelige seunskinders van onderskeidelik 11, 7, en 6).

Ek slaap Saterdagaand ook by die moeder, want ons moet onsself Sondagoggend 8:30 anderkant Krugersdorp bevind (Moeder woon in Centurion, so dis darem nie te ver nie...). Boetie nommer twee se eersteling word Sondag gedoop. Dis net hier waar die papaja die lugversorger tref. Moeder dog na die tyd is daar 'n ligte ete by die skonies. Ha-ha. Heellaas nie. Tannie Sunet beplan 'n moerse fees vir haar eerste kleinkind se eerste mylpaal! Moeder is gevra om ook asseblief 'n dis te berei...

Na feesmaal nommer een pak ons almal af terug Centurion toe. Kleinkind met die nuwe naam en ouers inkluis.

(Ter wille van jou eie sanity wil ek net gou verduidelik: Ons is vyf (5) kinders in ons gesin. Moeder het agt (8) kleinkinders. My een sus en familie sal nie die naweek by wees nie. Dus, sal daar vier van ons wees - almal behalwe my eie gade inkluis. Sus wat nie kom nie het een dogter. Dus, van die 8 kleinkinders gaan daar sewe wees.)

(Bogenoemde verduideliking sluit nie my stiefpa se telge in nie...)

Nou is ons 9 grootmense (Ma en man, ouboet en vrou, middelkind en man (hulle het ook 3 woelige kinders van 9, 8, en 4), ander boet en vrou, en ekke), en 8 kinders. Die een met die nuwe naam tel seker nie regtig nie, aangesien hy nognie kan hol-en-gil nie.

Dan is dit tyd vir die boom.

Daar is gewoonlik 'n berg geskenke. Almal spreek gewoonlik af dat daar nie vir mekaar se families gekoop word nie, maar dan gebeur dit inelkgeval! 'n Leeftyd later is al die geskenke uitgedeel, en 'n nog groter hoop geskeurde geskenkpapier lê in die middel van die vloer. Dan gaan haal een van die ma's 'n swart sak en begin die papier daarin bondel. Die ander ma's help hiermee. Die mans gaan sit dan buite (as dit nog lig is), of iewers anders waar lig is (as dit al donker buite is), en vra mekaar of hulle dalk weet wanneer ons gaan eet...

Moeder deel my mee oor die foon dat sy voel ons nie so honger gaan wees na feesmaal nommer een nie, en dat ons maar 'n eenskottel gereg gaan maak vir Sondagaand. "Sodat daar darem net iets in die huis is as iemand wil eet." Sal seker een van my ma se staatmaker pasta geregte wees. As mens vyf kinders grootgemaak het het jy baie sulke staatmakers om op terug te val...

Maandag is Kersfees.

Ons sal seker almal opruk kerk toe. Daarna terug-ruk huistoe. Dan sal iemand Handel se Halleluja koor aan skakel. Dis 'n tradisie wat my eie pa begin het - hy het 'n Deutsches Grammaphon plaat gebruik met die mooiste opname (dieselfde plaat is nog iewers vol stof onder in 'n kas - gaar gespeel). My ma het ons 'n paar jaar terug aan die tradisie herinner, en dit het weer herleef. Dis iets baie spesiaal en persoonlik vir ons almal. Dan kry my ma trane in haar oë. Dan steek dit die sussies aan. En die boeties kry knoppe in hul kele. En die skonies raak een-een ongemaklik en verdwyn agter deure en/of bome.

As al die knoppe weg gesluk is word tee bedien, en die skonies maak weer hul verskyning.

Terwyl ons vir middagete wag, bedien moeder 'n bohle (ek sien mense spel dit deesdae bola...). 'n Vrugte pons vir die van julle wat nie begryp waarvan ek praat nie. A fruit punch for you that are English.

Dan uiteindelik: Middagete. Die groot fees!

Moeder het dit goed gedink om te delegeer. Dit is op die ou end maar beter. Dan is sy nie die enigste een met 'n vuil kombuis nie.

Op die menu is die volgende:

My een stiefsus gaan haar berugte "Sauvignon Blanc gemarineerde oondgebakte Camembert" vir voorgereg maak. Bedien met vrugte en vye konserf.

Vir hoofgereg:

Noorweegse salm.
Gerookte varkboud met glasuursel en tuisgemaakte mosterdsous.
Drie slaaie (moeder se alomteenwoordige lagieslaai, en twee ander wat ek gaan maak).

Vir nagereg:

Casata (ie. tuisgemaakte roomys met 'n doppie brandewyn en glacé vrugte).
Moeder het besluit vanjaar gaan sy die Casata bietjie op-zoesh. Sy gaan die bak vooraf met gesnyde swiss roll uitvoer. Dan kom die roomys binne in. Dan word die spul uitgekeer, en gooi sy 'n sjokolade ganasch (spel?) bo-oor. Klink dodelik.

Vir die mense wat die ete oorleef het, of wat te versadig was om huistoe te ry, is daar teen vieruur koffie en vrugtekoek...

Daarna spat almal uitmekaar, en is Kersfees min of meer verby.



Nouja. As ek dit als oorleef, sal ek seker eers weer in die nuwejaar van my laat hoor.

Julle almal moet 'n vreugdevolle feestyd beleef, en baie voorspoed vir die jaar wat kom.


My wens vir jou en jou familie is liefde.


Ons praat in die toekoms weer...

8 Comments:

Blogger maeree sê...

adam, jammer jou geliefde gaan nie ook daar wees nie. mag dit in elkgeval geseënd wees, met so min as moontlik indigestion.

21 December 2006 at 11:07:00 SAST  
Blogger Adam sê...

Hy is nogal depressed daaroor. Dis Kersfees nommer vyf wat ons nie deel nie. Van volgende jaar af sal die families maar beurte begin kry - soos dit in meeste gevalle werk...

Baie dankie vir die mooi wens, en ondersteuning!

Liefde daar.

A.

21 December 2006 at 11:26:00 SAST  
Blogger Lammervanger sê...

Hemel dis 'n spyskaart was respek afdwing. Ek kom uit 'n gebroke huis uit so dit was nooit 'n ongekende verskynsel vir my en my broer om 'n Kersfeesontbyt (met volstruiseiers en alles) op die plaas in die Suid-Kaap te geniet saam met pa se helfte van die familie en dan 400km Swartland toe te ry (terwyl jy nog die laaste eier om jou mondhoeke afvee met 'n servet) om seker te maak dat ma nie alleen is op die dag nie. En dan alles andersom die volgende jaar...dit was darem nie so erg as wat dit klink nie, maar ten minste speel daai permutasie hom nie af in die vreemde nie. Hier kan ek maar ontspan, niemand word afgeskeep nie...!

21 December 2006 at 12:13:00 SAST  
Blogger Adam sê...

Lam - Het gesien my naam is nou op jou lysie. Ek het vamore joune op my lys ook gevoeg... Thanx.

21 December 2006 at 14:02:00 SAST  
Blogger Mad Maddy sê...

Arram, klink na 'n hemelse kersfees, behalwe dat Andries nie gaan by wees nie natuurlik. Troos jouself daaraan, hierdie is my derde Kersfees in 'n ry weg van die huis af, en hierdie een gaan die meeste alleen wees van die drie, aangesien die meeste van my pelle weg is op vakansie. Gaan gedurende die dag werk, en kan nie se dat ek enige planne vir die aand het nie... nie eers 'n lekker ete nie (die britte glo mos aan kalkoen, maar dis nou nie 'n persoonlike favourite nie, ek verkies nogsteeds 'n lekker skaapboud!)

Dus, 'n Geseende Kersfees vir jou en die familie en Andries en sy familie, hoop dis 'n asemrowende 2007!!!!!!!!!!!!!!

Mis en lief jou baie...

22 December 2006 at 13:26:00 SAST  
Blogger Unknown sê...

Dude, niks kan makliker wees as om al die ready-made-goodies by Woolies te koop nie (behalwe natuurlik die R200+ per kop benadering, soos jy weet). Vars slaaie, koue vleis, nagereg, the works. Vir ekstra splash-n-dash kan julle altyd 'n boud in die oond druk (die spesie word aan eie smaak oorgelaat), of geroosterde groente. Mmmm. Miskien is dit omrede ek honger by die werk sit en Woolworths net hier oorkant is dat ek nou al die nonsens kwytraak. Keurige Krismis, ou dier!

22 December 2006 at 20:35:00 SAST  
Blogger Retha sê...

Adam, het uiteindelik vir jou terug gekommentaar op my blog. Jammer dit so lank gevat. Baie liefde en seen en lekker eet Kersfees!! Retha

23 December 2006 at 20:02:00 SAST  
Anonymous Anonymous sê...

Adam, is jy seker ons deel nie 'n familie nie?

Klink alles hopeloos te bekend...

(Hierdie kommentaar kom bietjie laat, maar hoop die Kersfees was goed en voorspoed vir 2007.)

10 January 2007 at 16:00:00 SAST  

Post a Comment

<< Home