Om te trou, of om nie te trou nie. Dit is die kwelpunt...
Hierdie post handel oor moffies, troues en die kombinasie van die twee.
Die woord 'ek' verskyn ook telkemale in hierdie post.
Ek vra omverskoning vir enige aanstoot gegee.
(Lees: ek is jammer dat jy nie in staat is om mense met vreemde seksuele oriëntasies te aanvaar nie, maar dat ek net wil hê jy moet weet dat ek helemaal fine is met my oriëntasie...)
JHR vra my toe mos in die middel van Maandagaand se paartie of ek en An3s die Civil Union ding gaan doen... Ek antwoord toe grappenderwys dat ek nog helemaal te Calvinisties is om deel te wees van 'n gay huwelik.
Ek wil myself graag verduidelik. Ek het reeds omverskoning gemaak vir al die "ek'e" wat in hierdie post gaan verskyn. Dit is my ervaring van die hele dinamika agter my eie gay-wees. Please bear with me...
Iewers in die laat laerskool vroeë hoërskool (daai tyd wat oumas en tantes jou begin peper met vrae oor die amoreuse in jou lewe) het ek begin besef dat vrouens my nie beskore is nie. My antwoord op voorgenoemde vrae was gewoonlik dat daar niemand in my lewe is nie. Hoekom dan nie?
Verduideliking #1: Meisies is te veel moeite.
Aan alle dames, ek probeer niks hierdeur insinueer nie. Dit was bloot 'n grashalpie om my off-the-hook te kry by nosy familielede. Hierdie antwoord het gewoonlik die gewensde uitwerking gehad.
Later het my ma my ook begin corner oor my meisie-lose toestand. Die feit dat ek in 'n seunskool was en omtrent 3 meisies geken het, was nie ter sake nie. Met my ma het ek die a-seksuele verduideliking probeer...
Verduideliking #2: Ek gaan nie trou nie.
Ek het gedink dis 'n goeie manier om my ma te begin soft-soap vir die ergste. Later het dit egter begin vassteek, en het ek myself begin soft-soap vir dit wat ek nie op daardie stadium wou weet nie.
So het ek myself begin brainwash dat ek nooit sal trou nie. Dit was die maklike deel.
(Eintlik moes ek lankal geweet het wat kom. Byvoorbeeld, toe ek in Standerd 1 begin musiek uitsoek vir tydens my huweliksbevestiging se kerkdiens. Ek het die arme bruid toe al jammer gekry, want ek het geweet sy gaan nie veel sê hê in die verrigtinge nie. Vir al wat sy weet gaan ek nog die rok ook uitsoek...)
Nietemin.
So vertel ek myself deur die hele vyf jaar van hoërskool dat ek nie gaan trou nie. Dit was my manier om vir myself en vir die wêreld te sê dat ek gay is. 'n Tipe eufimisme, if you will.
In matriek word daai rivier in Egipte vir my te groot en oorvol, en ek erken hardop aan iemand anders dat dit is hoe sake staan. Gelukkig, gelukkig, is ek nie deur hom verwerp nie.
Nouja, toe is ek uit die kas uit. Toe kom die hele nuwe identiteit en die selfaanvaarding en die kwessie dat die samelewing mens vir ewig gaan verwerp etcetera etcetera.
Drie jaar later vertel ek my familie, en hulle vat dit goed.
Later die week, by 'n singende kersboom oefening, vertel ek vir AB wat gebeur het met die familie. Sy reaksie:
"Nou kan jy begin leef"
Ek dwaal af. Toe moet ek nou die hele dating game begin speel, en daaraan gewoond raak.
Op 'n dag ontmoet ek 'n skaam outjie by die koor, wat omtrent nie wil oogkontak maak nie. Hy sit langs my in die koor. Ek kry net een lettergreep antwoorde as ek hom iets vra. Maak dus nie veel van 'n indruk nie...
Drie maande later, op 'n koorkamp, is hy teenwoordig by 'n gesprek tussen my en 'n ander gay koor maatjie, en interpreteer dit toet-en-taal verkeerd. Sy hart breek in twee, want die ou op wie hy sy oog het, Adam, is... is... STRAIGHT!!!
In daardie selfde tyd word ons albei genooi na 'n sjop en sjerrie aand by 'n vriendin. Ons speel 30-seconds, en ek raak verlief. Hy is nie net cute nie, maar het actually 'n kop op sy lyf!
Ek begin by hom te kuier. Hy besef sy fout en is in die sewende hemel. Hy leer selfs 'n Franse frase vir sy gevoel: Je sui sur une petite nuage (verskoon spelling, naamvalle, tenses et al asb). Dit beteken: Ek bevind myself op 'n klein wolkie. In goeie ou Afrikaans: Ek is in die wolke.
Kom ek fast-forward bietjie:
Ons kys.
Sy ouers vind op een slag uit van my en hom en ons.
Sy ouers stuur hom vir berading.
Sy ouers ignoreer my.
Sy pa kom op ons af. Vas aan die slaap op een bed. Hy bo-op die lakens. Ek onder die alkens. Albei met helemaal te veel klere aan.
Sy ouers word op die daad tien jaar ouer en spierwit grys.
Sy pa ignoreer ons albei.
Sy ma lê en huil op die bed.
Sy pa staan en huil voor die braaier.
Hy sê hy trek uit.
Hulle moet vrede maak.
Hy trek by my in.
Hulle moet vrede maak.
Twee jaar later maak hulle vrede.
Meimaand sal dit vyf jaar wees.
Ons het intussen saam (en met insette vanuit sy pa se bankrekening) 'n meenthuis gekoop. Ons is saam op een mediese fonds. Ons het twee katte en een hond, met die naam Tudor. Ons is lief vir mekaar. Baie lief vir mekaar.
Ek hoop dat jy, liewe leser, verstaan dat daar 'n hele aantal aanpassings moes plaasvind. Veral klein skakelaartjies wat mens in jou kop moet aan en af skakel. Aannames en agreements oor die wêreld en hoe hy werk. Hoe jy gedink het die wêreld werk. Hoe jy gedink het die wêreld moet werk. Hoe die wêreld en/of die lewe nie werk nie. Dis amper soos grootword x2.
My verlore vriend Riaan wou hom altyd doodlag as ek sê ek is 'n Calvinistic Homosexual. Dit is twee terme wat mekaar totaal contradict. Ek staan egter daarby.
Nou skielik word daar van hierdie moffie verwag om te trou! Daardie skakelaars is al van Standerd 6 af gefuse... Ek voel amper soos Calvin:
Ek sukkel nog so 'n bietjie met die gedagte van trou... Daar is 'n hele paar loigistieke probleme wat hulself voordoen as twee mans sou trou. Byvoorbeeld: Wie stap in die gangetjie af (ek of hy)? Wie bring daai een wat afstap nou eintlik in (pa of ma, of albei)? Wie wag voor by die preekstoel (en presies hoekom?)? Raak mens verloof, of wat? Wie gooi die ruiker? Is daar 'n ruiker? Wie dra wie oor die drumpel? Ens.
So, if you don't mind, gee my eers so 'n rukkie om daai skakelaars te ont-fuse voor jy my weer vra of ek nou gaan trou of wat.
8 Comments:
1. ek dink alle seksuele oriëntasies is vreemd (veral, byvoorbeeld, my ma en pa s'n).
2. toe ek getroud is, het die hoof van die huis se ouers (albei) saam met hom in die kerk ingestap en my ouers (albei) saam met my en ons toe vir mekáár gegee. niks van hierdie patriargale crap nie. dit was baie feestelik.
3. is dit nie lekker om te kan sê dat jy nié nou gaan trou nie?
4. respek (vir jou storie, jou keuse, ens)
wow. ek's saam met maeree - respect.
i laughed, i cried (really i did)- great post...
Wow, amazing post! Ek dink die belangrikste in die lewe bly maar net om jou eie geluk te verseker, want aan die einde van die dag sal daar altyd iemand wees wat nie saamstem nie, maak nie saak wat nie.
Ek dink egter ook dat trou 'n tricky ding is... vir enigiemand! En dis mos nie regtig 'n priority nie, so why worry?
Nice post! Ek was so buite voeling met die wereld dat die moffies-kan-trou ding my vandag eers bereik het. Cool storie en respek vir die eerlikheid met jouself.
Die nice ding van hierdie minder tradisionele troues is dat daar geen konvensies is nie. Jy kan heeltemal kreatief wees en mal gaan! As jy dit nou wil doen, natuurlik ;)
Ek stem saam met bloute! Vergeet van garters, ruikers, troukoekornamentjies, pa/ma wat vir jou/hom afgee, openingsdanse, alles... Dink eerder daaraan as 'n moerse partytjie saam met almal vir wie julle omgee, om julle saamwees te vier.
Solank dit 'n fees is. Die handjie vol gay ouens in my lewe het in elk geval die beste smaak in musiek/kos/décor, maar mens moet seker nie veralgemeen nie.
In Griet skryf 'n Sprokie staan daar: Marriage is an institution and who wants to live in a fucken institution? Amen.
Briljante post. My een is ook gay. Van die familie sukkel daarmee, hy't dit nog nooit openlik aan hulle erken nie, maar almal weet dit eintlik. Hy's my hart se punt en een van die min mense wat my deurmekaar koppie kan uitfigure.
Post a Comment
<< Home