Sunday, June 03, 2007

Post #116: Goeters wat "Prrr-prrr-prr" maak...

My dierbare mevrou,

Bo in my kas lê 'n koffer. Hy word min gebruik, aangesien ek min ver genoeg weggaan om 'n hele een vol te maak.

Ek beplan tans 'n reis, waarvan ek moontlik nie gaan terugkeer nie. Daar is dinge wat hier rondstaan wat nie in die koffer gaan pas nie, en dinge wat wel in die koffer sal pas, maar definitief nie die reis sal oorleef nie. Een van daai dinge sit tans langs my en maak "Prrr-prrr-prrr".

Hierdie reis is van so aard dat ek sekere van my besittings vooraf sal verkoop, aangesien ek dit nie kan saamneem nie, en dus geen nut meer daarvoor gaan hê nie. Ek sal egter altyd, altyd, nut hê vir 'n ding wat "Prrr-prrr-prrr" maak (veral as mens jou hand daarop laat rus).

Aan die ander kant is hier twee sulke ander goeters wat "Whaf-whaf-whaf" maak sodra daar 'n vreemde geluid buite my huisie is. Ek is nie so geheg aan hierdie twee goeters nie. (Oja, ek het vergeet om te noem dat daar in der waarheid twee goeters is wat "Prrr-prrr-prrr" maak, ek net na een verwys aangesien hy nou langs my staan).

Daar is klaarblyklik maniere waarop mens sulke voorwerpe deel van 'n mens se reis kan maak, maar ek vermoed dit gaan baie beplanning, mannekrag, en monitêre insette verg. Dit laat my wonder of dit op die ou einde die moeite werd sal wees. Maar ek hou tog so van 'n ding wat "Prrr-prrr-prrr" maak. Veral van hierdie ene langs my. Hy het nou al so op my gegroei. En hy is so 'n verweefde deel van my daaglikse bestaan dat ek bang is vir die leemte wat daar sonder hom gaan wees.

Gelukkig het ek nog baaaie tyd om te besluit...

Groetnis,

A.

Labels: , ,

3 Comments:

Anonymous Anonymous sê...

Watse reis? Waarvan praat jy? En nou mis ek my katte so...

04 June 2007 at 07:34:00 SAST  
Anonymous Anonymous sê...

Waarnatoe gaan jy??????

Ek hoop daar's plek om jouself te blog waar dit ookal is.

04 June 2007 at 09:04:00 SAST  
Blogger Adam sê...

Soos ek genoem het is dit nog net in die pyplyn, en is ek nou eers besig met die beplanningsfase. Ek speel rond met die gedagte van emigrasie...

En Anja, vir my laptop sal ek beslis 'n plekkie maak! (Hy maak ook soms prrr-prrr-prrr as ek my hand op hom lê. Hehehe).

04 June 2007 at 09:30:00 SAST  

Post a Comment

<< Home