Wednesday, September 06, 2006

'n Paar 'pa' gedigte...

Want so is ek geleer

Kies vir jou ’n seuntjie,
enige kleur enige soort.
Leer hom wat jy weet,
maak hom sorgvuldig groot.
Maar voor hy skooltoe,
moet jy seker maak jy’s dood.



Was

Hy was ’n man van aansien en gestalte,
pa van ’n gesin (sy jongste: vier, ’n seun).
Maar deesdae is hy nie meer hier nie;
sy naam net ’n woordjie op papier,
of ’n steen in die wind en die reën.



[ ]

die nie-onthou
van gister se kleintyd
lê en sluimer in my onderbewuste
(nes die nie-onthou van ’n groot familie wat nog almal daar is)
wat wag om onthou te word,
so goed onthou te word
soos die onthou
hoe dit geëindig het
– en dát dit geëindig het –
en die wete
dat dit nie meer is nie



Vir my pa teen die muur

ek ken hom nie
ek het geen ervaring
van hom nie
hy is net grepies
uit my geheue

dié bril,
dié gesig,
dié glimlag,
dié hare,
dié klere,
dié oë,
dié foto
noem ek
pa.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home