Thursday, August 31, 2006

Laaste dag van Augustus...

Almal is moeg.

Andries moes tot half 2 teken aan sy huiswerk. Ek het half 11 in die bed neergeval met Beethoven op die high-fi (Andries was lus vir iets Romanties - toe kies ek Beethoven - my gunsteling). My iPod is aan die high-fi gekoppel, en die musiek speel dan mooi hard dat almal kan hoor. Ek het al Beethoven se simfonië op my iPod (dankie Philna). Teen die tyd wat ek gaan slaap het, was die musiek op snit 20 van 44. Ek het dit nie sagter gesit nie. Net gaan slaap. Die lig ook aangelos.

Op 'n stadium het Andries vir Beethoven kom demp. Ek het gladnie besef hoe laat hy kom slaap het nie. Eers vamore uitgevind. Geen wonder die ou lyk so oes nie. Hy sê sy kop voel soos 'n groot marshmallow.

Hannelie s'n ook. Sy is ook moeg. Kan dit egter verstaan met al die stres van die afgelope paar dae (weke?). Haar ma het Dinsdag 'n breinoperasie gehad. Gelukkig het als goed afgeloop. Dit het haar egter noggal van energie getap.

Ek en Andries het vir haar en Arnold by die Mugg gekry vamore vir brekvis. Dit was 'n baie vinnige brekvis, want Arnold het die tye vir sy vergadering verkeerd gehad. Hy't gedog dis 12h, toe is dit eintlik 10h. Andries moes ook 10h by die werk wees. Aangesien die twee se werke aan die anderkant van die stad is, het hulle eerste opgespring en verdwyn. Han het saam my terug gery.

In die kar het sy gesê Chris is vandag 14 jaar dood. Die 31e. Sy sal altyd onthou van die 31e. Hy het op 31 Julie verjaar ook (as ek reg gehoor het). Ek sê haar toe dat my pa die 5e dood is.
"Augustus?"
"Nee. September."
Toe dink ek dat dit nou al 22 jaar is. Wel, dat dit Dinsdag 22 jaar sal wees.

My pa het kanker gekry.

Chris het homself geskiet.

Ek is tans besig met 'n taak oor tiener selfmoord. Ek wik en weeg toe of ek daaroor moet praat, maar onthou toe dat Hannelie helemaal fine is met haar broer se dood. (Is ek fine met my pa se dood? Ek dink so. Meer as vroeër.)

Meeste tieners pleeg nie selfmoord as gevolg van depressie nie. Hopeloosheid is 'n groter oorsaak. Han dink dit is ook die geval van 'n spirituele of eksistensiële krisis. Waar die kind nie waarde aan sy of haar lewe kan heg nie. Hulle sukkel om 'n doel te vind, en raak dan hopeloos. (En Chris? En Jolene? En Justin se sussie? En die skitter ster van 'n skoolkind op die paalposters hierdie week? Geld dit vir hulle ook? Wonder maar net.)

Nou-nou bel Ds.Chris vanuit die noorde. Hy wil by Hannelie weet wat sy dink van begrafnis vs verassing. Die emosionele closure rondom elkeen. Mense kla dat verassing stomp is en dat hul nie behoorlik closure kry nie. By die graf is daar 'n meer promonente afsluiting.

Hannelie dink dit draai als om die manier hoe mens dit hanteer en saam met wie. Jy kan jou eie ritueel aan mekaar slaan, en sodoende vir jouself beter closure gee.

Ek stem nogal saam. Maar ek is te moeg om te dink.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home