Thursday, April 26, 2007

Adam vat 'n breuk...

Adam, sy geliefde en twee ander maats gaan vir 'n week op 'n welverdiende vakansie. Ons is halfpad ingepak, en oppad suid kus toe. Ek gaan julle mis...


Lolla aan die ander kant is nie baie beïndruk met die idee nie...

Jammer aan al die Kaapse maters, aan wie ek 'n koffie belowe het. Dinge wou net nie so uitwerk nie.


Liefde,

A.

Labels: , ,

Wednesday, April 25, 2007

Kom ons mors tyd...

Gerhard van KSA het 'n voorstel wat ons met ons teetyd kan doen. Ek het Flight of the Hamster probeer, en dit terdeë geniet. My high score is 135ft.

Labels:

Monday, April 23, 2007

Vyf dinge...

Ek het al voorheen so 'n post geplaas, maar Johan het voorgestel ons doen dit weer. So, nou moet ek mooi dink dat ek myself nie herhaal nie...

  1. My pa was 'n predikant.
  2. Die twee dinge wat my die kwaadste maak in die lewe is: verkakte bestuurders, en mense wat my veroordeel op grond van my seksualiteit sonder dat hul die moeite doen om my regtig te leerken.
  3. Ek vermoed ek gaan sterf weens kanker.
  4. My kamer het een rooi muur.
  5. Ek het 'n geboortemerk so groot soos 'n R5-stuk 8cm links van my naeltjie (my linkerkant).
Tag, you're it...

Labels: , ,

Wat ek die naweek geleer het...

As mens 9:30 in Eastgate moet wees, en mens vat jou kar 8:50 vir 'n was in Lynnwood, kom mens 50 minute laat vir jou afspraak.

Labels:

Wednesday, April 18, 2007

Belaglike boeke...

Om aan te sluit by Salige Rus se post oor belaglike boeke, deel ek die volgende met julle:

Gisteraand, loop ek in Brooklyn rond. Ek het iets gesoek om te doen voor die volgende prent van die Spaanse Filmfees begin. Nadat ek al die windows in die sentrum leeg geshop het, sit ek af na die naaste boekwinkel. (Ek verstaan een van ons mede bloggers werk daar, maar ek het hom nog nooit gewaar nie...) Net voor ek weer die pad vat, besluit ek om gou na die kookafdeling te gaan kyk. Salige Rus is besig om my stadig maar seker te indoktrineer om oor te kom na die donker kant van kosmaak. Ek oorweeg dit om die kring van die spotters te verlaat, en 'n ge(ver?)spot'e te word. Ek soek boeke met vegetariese resepte. Ek moet sê Brooklyn se EB het nie veel van daai soort nie...

'n Draadgebinde boekie vang my oog, aangesien ek nie sy titel kan sien nie. Ek trek hom uit die rak, en bars amper uit van die lag:


Die titel is belaglik, maar die konsep darem nie. Dit handel maar net oor die tipe kos wat in die bybelse tyd geëet is, wat dan in moderne resepte gebruik word.

Een ander boek wat ek raakgesien het, het ek wel gedink is vreeslik oulik. As hy nie R250 was nie sou ek dit waarskeinlik gekoop het:


Gesonder as dit kan mens bykans nie... Ek verjaar in November... Wink-wink, nudge-nudge...

Labels: , ,

Tuesday, April 17, 2007

Marginaal...

Vanmore, terwyl ek my Pronutro sit en eet voor Morning Live (heellaas geen DSTV nie), tref nog 'n hamer my op die voorkop. As ek dan nou 'n New Ager word, gaan ek deel wees van 'n gemarginaliseerde groep. Hei-jou-wragtie. Wie sou kon raai?!

Die saak staan so. Ek dink nie ek was al ooit deel van 'n gemarginaliseerde groep nie. Ek was nog altyd deel van die wen span. My hele lewe lank.

  1. Ek is/was 'n wit Afrikaanssprekende - dis 'n groot groep, wat lank die beste en sterkste en grootste en in-beheer-ste groep in ons land was. Vandag (lees in die nuwe bedeling), is die Afrikaanssprekendes nogsteeds 'n groot groep. Dalk nie meer die wenspan nie, maar wel 'there', as ek dit so mag stel.
  2. Ek was in een van Pretoria se spogskole op hoërskool. Ons was die beste. Ons was nie die grootste nie. Ons was nie die slimste nie. Ons was gereeld die vinnigste, en die sterkste, en die gekultiveerdste. 'n Wenspan indien jy al ooit een gesien het...
  3. Ek was nog my hele lewe lank (tot ek so 'n jaar terug ophou gaan het) in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Ons is nie die grootste susterkerk nie, maar wel baie BAIE trots op ons kerk. Ons het in ons harte geweet ons is die beste, en dat ons op die regte pad is, en dat ons hemel toe gaan. Dat ons die wenspan is.
  4. My familie was al die jare deel van die Nasionale Party. Die NP was die wenspan. Ons was die beste. Ons het die beste geweet. Ons het die regte idee gehad. Ons het regéér!
  5. Toe moer ek uit die kas uit. Ek is gay. Ek is deel van die gay span. Die gay span is nie noodwendig (in my oë) gemarginaliseer nie. Ek dink die mowwe is 'n groot genoeg groep om nie te voel hul trek aan die kortste ent van die seksualiteit kontinuum nie. Ons is cool, en ons weet dit, en niemand gaan dit van ons af wegvat nie. Ons het hard daarvoor baklei, dammit!
Dit was op daardie oomblik wat Leanne Mannas iets gesê het oor 'n gebedjie opsê vir die krieketspan, wat daai hamer my tref. Ek het nooit besef hoe oordonderend en in your face geloof kan wees nie. As Christen het ek nie besef hoe Christenskap gepropageer word nie. Ek het wel agtergekom dat daar ander gelowe is wat 'air time' moet kry, en was soms ook effens kwaad omdat die wenspan opsy gestoot moet word vir die kleinere gelowe (uit die oogpunt van 'n Christen natuurlik).

Nou, dat ek besluit het om die wenspan te verlaat, kom ek agter hoe gemarginaliseer die res werklik is. Skielik het ek baie meer empatie met baie gemarginaliseerde groepe.

Ek voel gladnie minderwaardig nie. Ek wil nie op die map wees nie. Ek neem net skielik waar vanuit 'n totaal nuwe hoek. Ek is glukkig met die keuse wat ek gemaak het. Ek besef die wenspan konsep is nie al waarom die wêreld draai nie - alhoewel dit is hoe die Afrikaner sy kind grootmaak...

Nou dat ek die Afrikaner weer hierby insleep... Mens moet altyd in 'n groep geplaas word. As ek by iemand kom - nou minder as voorheen, en veral minder as die laat 80's vroeë 90's - wou ek eerstens weet in watter kerk hy/sy is, en tweedens watter party hy/sy voor stem. Want as jy Afrikaanssprekend was, was jy of 'n NG, of 'n NHK, of 'n GK. Jy was of KP of NP. As jy ekstreem was, was jy of HNP, of DP. As jy weird was, was jy in 'n charismatiese kerk. Dis hoe dit was.

Self as jy in die engelse klassie op laerskool was (op die platteland was net Afrikaanse skole, en een klas vir die engelse kinders), was jy 'n uitgeworpene. Die kinders van die engelse klassie het maar met mekaar gespeel. Ek was vir 'n rukkie in die hulpklas (vir disleksie - mok iemnat dit dlak agter?), en die ander kinders wou nie juis met ons meng nie. Wat nog te praat van die spesiale klas?! Ek het darem maatjies in die gewone klasse gehad, maar die arme spesiale klas kinders... Hulle was dom, vuil en het luise gehad. Jy raak nie aan hulle met 'n tang nie.

Die Afrikaner is bang vir enigiets wat anders is as homself. Dit was een van die redes hoekom ek vir 18 jaar (teenoor vriende) en 21 jaar (teenoor familie) in die kas was. As jy anders is, gaan jy 'n uitgeworpene word. Dit het my ma eendag vir my gesê - voordat ek uit die kas gekom het - toe ons oor die hele gay issue gepraat het. Haar woorde het neergekom op die volgende: as jy anders is, word jy verwerp.

Waarin is hierdie vrees vir die vreemde gewortel? Is die Afrikaner dan so onseker van homself? Ai. Dis jammer.

Wag, ek dwaal af.

Soos ek vroeër gesê het, is my spirituele paadjie my eie paadjie. Niemand kan dit vir my loop nie. Ek kry wel heelwat insette. Van vriende, van media en ander leesstof, ens. Daar is dus support. Steeds bly dit my keuse.

Ek dink die feit dat ek al eenmaal afgewyk het van die straight and narrow maak dit vir my makliker om net nog 'n swenk op die linker vlank te vat. Ek is net ongelukkig nie so seker of my familie nog 'n 'afwyking' gaan oorleef nie...

Labels: , , ,

Monday, April 16, 2007

Wat ek die naweek geleer het...

Eintlik is dit meer "Wat ek die naweek beleef het"... Babas, babietjies, babakies, in alle vorme. Hier is 'n paar hoogtepunte:


Baba katjie by my sus se huis. Daar is twee. Wat huise soek.


Sarabi - die nuwe 'sneeu hond'.


Nog ene van Sarabi (baie fotogenies moet ek sê).


Piepklein baba bergskilpadjies wat op my ma se erf uitgebroei het.
Te cute vir woorde...


Laaste, maar nie die minste nie, Koba.
Sy kuier hier, al die pad van Boston af. Sy is tans twee maande oud.
(Sy het van dag een af al daai bos swart hare!)


Labels: ,

Friday, April 13, 2007

42... (2)

Gisteroggend, net voor my baas die deur tussen my en haar eerste afspraak toe trek, loer sy om die kosyn en sê-vra:

"Jy weet nou wat jy moet doen...?"


Op die oppervlak wou sy seker maak dat ek weet wat my takies van die dag behels. Toe die deur toegaan, tref die eksistensiële ondertoon van die vraag my soos 'n hamer op my third eye chakra.

(Plaas swanger stilte ter wille van effek hier...)

Toe die swanger stilte gaan lê, baar ek 'n selfregverdiging: "Ek dink so. Ek vermoed ek is op die regte pad. Ten minste, ek weet waartoe ek werk. Tans, in elk geval..."

Die siener het verlede week vir my gesê ek moet uitgaan en gaan speel - op my vriende oefen. My geliefde het hom amper dood gelag. En toe bekommerd geraak. Ek gaan klaarblyklik met energie werk. En ek moet solank begin oefen. Deur te speel, doen ek nie veel skade aan nie, en kom ek agter wat ek kan en wat nie.

Jy sien, ek is op 'n splinternuwe spirituele paatjie. Ek is in die proses om myself van die geloof wat ek van kleins af gevoer is te distansieër. Soos jy uit my vorige post kan aflei, is ek iemand wat moeilik laat los. Dit is dus nie 'n maklike proses nie. Ek sou graag sekere van my protestante konsepte met die nuwe paatjie wou integreer...

Hier is 'n paar dinge wat ek nie meer glo nie:
  • ek glo nie meer daar bestaan 'n hel nie
  • ek glo nie meer daar bestaan iets soos Satan nie
  • ek glo nie meer in die Bybelse konsep van 'n Hemel nie
Hier is 'n paar dinge wat ek tans glo:
  • ek glo in 'n tipe hiernamaals
  • ek glo ek is in beheer van my eie lewenspaatjie
  • ek glo daar is baie dinge tussen hemel en aarde waarvan ons bitter min weet
Hier is 'n paar dinge waaroor ek tans wonder:
  • die Bybelse konsep van God vs. "the source"
  • die godheid in onsself vs. die Bybelse konsep van God buite ons
  • hoe de moer gaan ek da kom wa ek moet wees
  • hoe de moer integreer mens new age stuff met protestante calvinistiese christenskap?!


Ek het in die week hierdie post gelees, (op hierdie blog) wat my geinspireer het om my eie weergawe neer te pen.

Ek dink die vraag "Waar is ek oppad heen?" sal maar altyd by mens opkom, deur die hele loop van 'n mens se lewe...

Labels: , ,

Wednesday, April 11, 2007

By gebrek aan enige substantiële gedagtes plaas ek nog 'n gedig...


[vir die eerste keer het ek alleen]

vir die eerste keer het ek
het ek vir jou gaan
by jou gaan
en wou ek jou vertel van
maar jy was
net jou naam was
op ’n warm
’n warmgebakte graniet
deur die laatmiddag son
alleen



-ooOoo-



Ek was Donderdagoggend by 'n siener. Sy het baie gepraat. Jy het baie te sê gehad. Deur haar mond. Jy het gesê ek probeer my liefde aan jou bewys deur so lank as moontlik te rou. Oor jou. Jy het gesê jy sien dit. Jy het gesê dis nou genoeg. Steeds wurg ek die trane terug. Want as ek gehuil het, gaan dit regtig verby wees. Vir 'n baie lang ruk. Ek is nie helemaal seker of ek daai anker wil knip nie. Ek het nodig om te seil. Ek sit al te lank hier geanker. As ek gaan huil, gaan dit verby wees. Steeds wurg ek die trane terug...


(By the way, hierdie was post #100. Baie geluk met my blogging centenary. Opgedra aan jou...)

Labels: ,

Tuesday, April 10, 2007

What the...?!

Resultate van foto nommer een:




Resultate van foto nommer twee:




Resultate van foto nommer drie:




Vertel jy my...?!

Labels:

Sunday, April 01, 2007

Gedig...

[ongetiteld]

my prins is 'n leeu – miskien
want hy het goue oë
en 'n goue hart
en in die son skyn sy vel
goud soos kaneel.

hy’t nie 'n stert,
en geen maanhare nie.
nie slagtande
of skerp naels nie –
sy hart is van goud.

my prins is nie 'n leeu nie
maar soms sien ek een beweeg in sy skaduwee

Labels: